sam

Sunday 14 June 2015

Sing Afrikaner Sing


SingAfrikanerSing_News2

“Sing Afrikaner Sing.” En dis presies wat Bok van Blerk doen. Maar meer as dit, hy moedig alle Afrikaners aan om saam te sing. Dit behoort natuurlik geen probleem te wees nie aangesien Bok bekend is vir sy lekker saamsing treffers. Nou gaan dit selfs makliker wees met die eerste treffer vanaf sy gelyknamige nuwe CD wat in Junie die lig sien, “Sing Afrikaner Sing.”
Die nuwe album volg in die voetspore van Bok se vorige CD, “Steek die vure aan,” wat platinumverkope aangeteken het. Kritici en Bok-liefhebbers was gaande en Bok het wyd lof ingeoes met nominasies by die SAMA-, Ghoema en Tempo Toekennings.

Die nuwe CD onderstreep maar net weer Bok se gewildheid by aanhangers van Afrikaanse musiek en is deel van die staatmaker kunstenaar se arsenaal aktiwiteite vir die res van 2015. Daar’s ‘n toer na België op die kaarte, asook ‘n besoek aan die Verenigde Koninkryk wat optredes rondom die 2015 Rugby Wêreldbeker sal insluit. En Bok die akteur sit ook nie stil nie met heelwat nuwe films wat in wording is.
Maar voor dit als gebeur, gaan “Sing Afrikaner Sing” vrygestel word. Die speellys sluit in liedjies met titels soos “Bok vir sports,” “Bosveld Afrika,” “Soos in die ou dae” en “Soutwater,” ‘n bonussnit wat in die film “Leading Lady” verskyn het. Daar’s ook ‘n duet met die Afrikaanse musiek ikoon Laurika Rauch met die naam “Ek het.” Johan Vorster, Ewald Coleske, Christoph Kotze, Pietman Geldenhuys, Fred den Hartog, Hunter Kennedy en Bok self het almal geskryf aan die liedjies wat op die finale lys van liedjies sal verskyn.
Vir meer inligting oor wat Bok mee besig is en oor die nuwe album, volg hom op Twitter: @BokvanBlerkReal

SingAfrikanerSing_News3

No comments:

Post a Comment