sam

Sunday 14 June 2015

Bok van Blerk: Nuwe video ‘sweep nié op nie’

Deur Jody Nel Vrydag 05 Junie 2015 17:12
 
Bok van Blerk hoop sy nuwe liedjie sal as ’n boodskap aan Afrikaanssprekendes dien om hul verskille eenkant toe te skuif en saam te staan.
Die ​musiekvideo vir “Sing Afrikaner Sing” is Vrydagmiddag op sy webblad uitgereik. ’n Voorskou daarvan is reeds meer as 30 000 keer op YouTube gekyk.
Van Blerk sê verskillende mense sal verskillende interpretasies van die liedjie, wat deur Johan Vorster en Ewald Coleske geskryf is, hê.
“Vir my gaan dit oor taal. Dit is definitief nie ’n opsweping nie. Dit gaan oor taal en kultuur.
“Daar is amper sewe miljoen mense in die land wat Afrikaans as hul eerste taal kies. Taal is nie op velkleur of ras gegrond nie,” het hy gesê.
In die liedjie sing hy: “laat jou stem gehoor word; laat jy nooit verdwyn”.
Die eerste deel is ’n vermaning aan mense om te praat as iets hulle pla. Hy meen die tweede deel kan moontlik gesien word as ’n vrees oor die toekoms van die taal, maar hy het beaam dat enigiemand hul eie interpretasie daarin kan lees.
In nog ’n liriek, “want die groot verraad kom uit ons eie mense”, kap hy na die media wat hy meen mense se woorde kan verdraai om koerante of tydskrifte te verkoop. Dit verwys ook na verdeeldheid onder Afrikaners.
“Afrikaners is baie keer hul grootste vyand en dit is nie nodig nie.
“Afrikaners sukkel om saam te staan. Daar is ’n gesegde; As jy 10 Afrikaners saam kry, is daar 20 kerke vir hulle.”
Die liedjie kap ook na mense wat vingers wys en waarsku hulle dat “die wiel eendag (sal) draai”.
Van Blerk het die liedjie opgeneem met die hoop dat mense wat daarna luister, besef dit is nie nodig om mekaar af te breek nie.
“Dit is ’n ‘saamstaan’-liedjie, amper ’n ‘word wakker’-liedjie.
“Jy hoef nie skaam te wees oor wie jy is nie, maar as jy respek vir jou taal en kultuur wil hê, moet jy ook ander se taal en kultuur respekteer,” sê Van Blerk.

No comments:

Post a Comment